Sprokiesland - deur Kiepieland Kleuterskool
- Get Tickets
- Details

Om die Kiepieland-uitvoering ten volle te geniet, moet jy die volgende riglyne volg.
Skakel jou ingeboude beheerknoppie af en programmeer die algroritme in jou grysstof om ’n herberekende benadering in te neem. Die musiek is lewendig en die atmosfeer is feestelik. Niks is perfek gesinchroniseerd nie en dit is onvoorspelbaar en oorspronklik. Daar is die parmantige dogtertjies wat raas met maatjies wanneer hulle vergeet om te staan op juffrou se bevel (hulle het sekerlik boeties by die huis), daar is die soentjieblasers wat waai vir hul familie in die gehoor, daar is die gebore vermaaklikheidsterre wat dans met oorgawe en alles gee om indruk te maak, dan is daar ander wat grootoog dans met dieselfde oorgawe maar glad nie in ritme is nie en vêr tekortskiet van enige billike definisie van dans, maar dans sal hulle dans!
Dit is elke jaar ’n voorreg om ons geliefde Kiepies se skoolkonsert op die planke te bring. Kom kyk hoe hulle tiekiedraai, verwag ‘n paar huilkrete, skaam glimlagte, ’n paar fronse maar ook ’n uitbundige gelag. Elke lyfie huisves ’n unieke hartjie wat op die gesiggies sigbaar is, elkeen anders en uniek, maar een ding het hulle gemeen – groot ogies wat hulle geliefde met ’n arendsoog soek in die kraaines van bekende en onbekende gesigte. Sommige vind die bekende gesigte baie vinnig en ander se moed sink vinniger as die Titanic. Kom wieg saam op die musiek en maak seker jou kleinding vind jou in die see van gesigte.
Skuif jou sorge opsy vir ’n dag en kom wees weer ’n kaalvoet kind. Ons hoop om almal daar te sien!